Charles Babbage, FRS (* 26 Desember 1791, Londen – 18 Oktober 1871, Londen) was ’n Engelse wiskundige, filosoof, uitvinder en meganiese ingenieur wat die konsep van ’n programmeerbare rekenaar uitgedink het. Hy word beskou as die “vader van die rekenaar” en die uitvinding van die eerste meganiese rekenaar wat uiteindelik gelei het tot meer ingewikkelde ontwerpe, word aan Babbage toegeskryf. Dele van sy onvoltooide meganismes word uitgestal in die Londen Wetenskapmuseum. In 1991 is ’n perfek funksionerende differensiemasjien gebou na aanleiding van Babbage se oorspronklike planne. Dit is gebou met die toleransies van die 19de eeu in gedagte en die sukses van die eindproduk het aangedui dat Babbage se masjien sou gewerk het. Nege jaar later het die Wetenskapmuseum die drukker voltooi wat Babbage vir die differensiemasjien ontwerp het.
Developed by StudentB